Twee trouverwante titels het onlangs op my lessenaar beland. En hoe kan ek dan nou anders as om dit in vandeesmaand se bruidsuitgawe te bespreek?
Deur Sophia van Taak
THE REALLY USEFUL WEDDING BOOK FOR SOUTH AFRICA, deur Pam Black, Pam Black Publications, 2007 (Sagteband, 240 bladsye, ISBN 0958500428, R120).
ELKE keer wanneer nabye vriende afhaak, oorval die troukoors my. Miskien is dit al die emosies op die groot dag (ek huil gewoonlik tydens die kerkdiens meer as die bruid se ma!), of die mooi rok en blomme. Of dalk is dit die lekker kos, die oormaat vonkelwyn en die algemene plesierigheid in die lug. Hoe dit ook al sy, ’n troue bly ’n asemrowende, onvergeetlike dag in enigeen se lewe en almal wil hulle s’n so perfek moontlik laat verloop. Dié dat ek tydens elke bruilof fyn kyk en observeer om dan al dié inligting na die heel agterste rakkie van my geheue te stuur vir eendag wanneer ek voor die kansel staan.
Nou het Pam Black, Leefstyl se trourubriekskrywer, met hierdie fantastiese boek te voorskyn gekom wat al daardie dingetjies wat ek dalk kan vergeet, pragtig saamvat in ’n volledige publikasie wat álles van ’n troue dek – vanaf die begroting en die reëlings rondom die seremonie, tot die wetlike aspekte, die uitrustings, geskikte plaaslike venues en selfs hoe om jou uitnodigings te bewoord.
Dit was vir my baie interessant om ook meer te leer van die onderskeie huweliksplegtighede van die verskillende kulture in Suid-Afrika. Die Moslem-, Hindoe-, Joodse, Sesotho-, Xhosa- en Zoeloetradisies word volledig verduidelik. Diegene wat dalk ’n meer tradisionele kinkel aan hul huweliksbevestiging wil gee, kan gerus hierdeur lees om ’n paar idees te kry – baie van die meer tradisionele seremonies is vreeslik kleurryk, met pragtige simboliek.
Die boek bevat ook terugvoering van pare wat reeds getroud is, en dié wenke oor wat hulle op hul groot dag anders sou aanpak, is van groot nut.
Dit kan nie skade doen om die voorbeelde van bewoording vir uitnodigings vooraf deur te gaan nie. Black pas een paar se uitnodiging vir verskeie situasies aan om te illustreer hoe dit gedoen kan word.
Die hoofstuk oor die onthaal se dekor en blommerangskikkings word met wonderlike rek-jou-rand- wenke toegelig en die tafelplasings word ook bespreek.
Selfs die fynere detail (soos die volgorde waarin die toesprake gehou moet word) het nie Black se aandag ontglip nie en die seremoniemeester kan gerus maar ook dié boekie deurwerk, net om te verseker dat hy weet wanneer om wat te doen.
Iets waarsonder geen toekomstige bruid die potensiële nagmerrie van troureëlings kan aandurf nie, is ’n tydrooster van wanneer sy wát moet reël en afhandel. Dié hoef darem nie ’n lêer vol dokumente op sy eie te word nie en Black verskaf die nodige struktuur teen ’n tydlyn agter in die boek.
Verder is sy ook nie suinig met haar bronne nie en ’n lang lys van bloemiste, venues, rokmakers, platejoggies, grimeerkunstenaars, fotograwe, videograwe en byna enige ander kenner wat ’n mens kan nodig kry, is ingesluit.
Sterkte met jou troureëlings!



















